Call Us018 011 8888

Vleisbeeskoeie

You are here:
< Back

Vleisbeeskoeie – Vier fases vir voeding

Dr Francois van de Vyver

Nasionale tegniese bestuurder, Herkouers by Nutri Feeds

Fvandevyver@countrybird.co.za

018 011 8888

Duidelike doelwitte in die produksie van vleisbeeste is van uiterste belang ten einde die winsgewendheid van die onderneming te verseker.  Fokus op speenpersentasie is belangrik en die produsent behoort te streef na `n speenpersentasie van minstens 80 tot 85%. Net so is die speenmassa en speenouderdom belangrike rekords wat gehou behoort te word.  Dit is egter die herkonsepsietempo van koeie en juis die eerstekalf-koeie wat die grootste uitdaging bied, met `n gevolglike speenpersentasie van minder as 60% vir laasgenoemde groep diere. Die doelwit vir bevestigde herkonsepsie behoort 82 dae ná kalwing te wees ten einde `n interkalfperiode (IKP) van 365 dae te bereik.

Om bogenoemde doelwitte te bereik, kan die voeding- en algemene bestuur van die koei strategies in vier duidelike fases verdeel word.

Fase 1 begin met parturisie (kalwing) op dag een en sluit dus laktasie in, waarvan vroeë laktasie die grootste uitdaging aan die koei bied. Die koei se voedingsbehoeftes tydens vroeë laktasie is die hoogste van die vier fases en die koei se goeie kondisie asook kwaliteit-voeding moet gebruik word om haar tydens dié negatiewe energiebalansstadium te ondersteun.   Verder, met `n doelwit van ‘n IKP van 365 dae, beteken dit ook dat die lengte van die fase `n maksimum van 82 kan wees waarbinne die koei herbeset moet raak.

Fase 2 strek dan vanaf herkonsepsie totdat die kalf gespeen word op 210 dae ouderdom.  Tydens dié fase is die koei verantwoordelik vir haar onderhoud, melkproduksie om die kalf se groei en ontwikkeling te ondersteun en die vroeë ontwikkeling van die ongebore kalf (fetus, vroeë dragtigheid).  Die voedingsbehoeftes is laer as in fase 1 maar voldoende kwaliteit-voeding moet steeds verskaf word sodat die koei kan begin om liggaamsreserwes te herstel.

Sodra die sogende kalf gespeen word op dag 200 – 210 van die koei se produksiesiklus, breek fase 3 aan.  Hierdie fase bied die laagste voedingsuitdaging aan die koei en is die primêre fokus op die herstel van kondisie om die koei gereed te kry vir laat dragtigheid. Dié stadium word beskou as mid-dragtigheid en is `n ideale tyd om die koei ekonomies terug in kondisie te kry aangesien daar nie meer hoë eise weens melklating is nie.

Fase 4 is die laaste trimester van dragtigheid waartydens die koei nie lakteer nie, maar weer baie hoë voedingsbehoeftes het vir die ontwikkeling van die fetus.  Sowat 75% van die totale groei van die ongebore kalf gebeur tydens dié fase. Verder moet die uier ontwikkel ten einde kolostrum met partus en hoë melkproduksie direk daarna te kan produseer. Laat dragtigheid word verder gekenmerk deur ‘n verlaging in voerinname weens die fisieke beperking op rumenspasie aangesien die kalf verdubbel in grootte.

 

Dit is dus duidelik dat die koei se voedingsbehoeftes tydens elk van die verskillende fases dramaties verskil en dat die voedingsprogram elke fase pertinent moet aanspreek. Die volgende diagram is `n opsomming van die belangrikste aanvullings wat oorweeg kan word ten einde in die produksiedoelwit van ‘n kalf-per-jaar te slaag.

Deur elk van die fases sorgvuldig te bestuur en hulpmiddels soos kondisietelling, kalfmassas en speenouderdom te gebruik, kan produksiedoelwitte doeltreffend bestuur word.  Die voedingstowwe wat deur die aanvullende voer voorsien moet word, sal natuurlik verder afhang van omgewingsfaktore soos reënval wat die kwaliteit van die weiding beïnvloed, die stadium van die jaar waarin elk van die fases val asook die werklike kalfseisoen relatief tot die kwaliteit van die weiveld.  ‘n Bestuursprogram moet in detail gekoppel word aan elke plaas se jaarlikse voervloei en beplan word saam met ander boerderypraktyke soos saai- en oestyd. Alleenlik wanneer resultate teen produksiedoelwitte gemeet word, kan die boer werklik die kudde se prestasie aanspreek.

Ask An Expert Now!